Tuesday, May 20, 2008

Halsnoermoord

WAARSKUWING: AS JY SOEK NA `N SOBER, REDELIKE UITKYK OP GISTER SE GEBEURE, HOU LIEFS VERBY.
Ek is emosioneel. weet nie waar om te vat of los nie. Maar iets in my breek en ek moet iets sê want ek voel hulpeloos en woedend. Al is dit bloot op `n blog wil ek BAIE HARD SKREEU:

NEE. DIT IS NIE AANVAARBAAR NIE.

Waar die idee vandaan kom dat dit maar okei is om `n mens wat voel en dink en lief kan hê LEWENDIG AAN DIE BRAND TE STEEK EN DAN TE LOS VIR DOOD, en hoe op dees AAAAAARDE nie net een persoon nie maar letterlik MASSAS hulself kan opsweep om te dink dis reg en goedso?! Iets is hewiglik LEEG hier. Volgens oorlewering is dit glo nog erger as dit: Daar is `n mite (die mens met sy ewige onvermurfbare mites!?!) As iemand sterf in vuur, as die laaste wat `n persoon inasem rook en vlamme is, sal daardie mens nie die ewigheid ingaan nie. Dus kan jy iemand se hiernamaals verwoes as die laaste wat hy/sy sien, vlamme is. Nie alleen word hierdie mens nie in hierdie lewe `n plek gegun nie, maar die halsnoerdood se haatlike doel voor oë is glo om selfs daardie wese se hiernamaals te vernietig.

GUN ONS MEKAAR DAN GEENSINS ENIGIETS NIE?

En nou wonder ek. Ek probeer verstaan. Ek probeer vashou aan die hoop dat daar wel iets in daardie massa was wat saggevat kan word. Maar dis dieselfde kranksinnigheid wat `n mensemassa soontoe kon dryf om mense wat as Jode bestempel is in `n godverlate winterlandskap herhaaldelik in `n ge-ysde meer te dompel bloot om te sien hoe `n lyf reageer. `n Lyf? `n Lyf huisves `n mens! Ek verstaan nie.

En eintlik voel ek lus om die politieke figure te blameer. Want hiedie issue lê dieper.
Slim vang sy baas. Zuma en sy union-kie probeer so effektief as moontlik hul ideologie, wat eintlik maar `n omgekeerde uitvloeisel van apartheid se magsmisbruik is as mens nou mooi eerlik daaroor wil gaan sit en dink, aanvuur met rallies waarin die massas opgesweep word. As die mense aandring op resultate word verskonings opgedien dat buitelanders "ons mense" se werksgeleenthede vat.
As politieke figure hul mag kon prysgee en begin dien soos wat hulle veronderstel is om te dien - hulle tyd en effort in basiese behoeftes van mense inwerk in plaas daarvan om hulle eie tydjie op die rostrum so lank as moontlik uit te rek deur hul posisies te misbruik. Om die alleman en-vrou se waarheid te manipuleer bloot sodat daar `n kruisie op `n stukkie papier getrek kan word, sodat DIE DIKPENSE nog langer kan salaris trek.
Ek is brusend.
Ek is verslae.
My ma het vir iets moois gewerk. Ons laat glo aan Eerlikheid. Geregtigheid. Liefde. En nou sit ons met haat en venyn.
AFGUNS in die suurste seerste sin van die woord.
Waar sou die stryd teen apartheid gewees het as die wêreld in daai jare alle grensposte vir Suid Afrikaners gesluit het, soos wat the people nou met Zimbabwe (wat in nood verkeer!) se mense doen?! Ek verstaan dit is `n krisis. Ja, 3 miljoen "ekstra" mense in `n land met `n wankelende ekonomie is nie `n ligte briesie nie, maar om hulle letterlik uit te roei daaroor?! Ek grapple. met `n afrikaanse aksent aan die woord. GRrrAPPLE.

Ek wens hierdie mense kon besef dat hulle juis al die vooruitgang wat Mandela vir Afrika in die wêreld gemaak het (deur die magisme en wysheid van Afrika aan die wêreld bekend te stel) vernietig met hulle jaloesie. Want mense maak nie so nie. Of dalk juis. Mense maak so. Mense wat so naby aan wêreldse menswees leef dat hulle niks van God daarin voel nie.

2 comments:

Dimi said...

So waar:

"Want mense maak nie so nie. Of dalk juis. Mense maak so."

Ek kan dit ook nie glo nie, dit sukkel nog om by my in te sink dat sulke goed in vandag se wêreld nog bestaan. Vooruitgang?

Unknown said...

Dimi neem die woorde so reg uit my mond. Wat gaan aan in my land noudat ek nie daar is nie? Gaan ek dit nog herken as ek terugkom?

Of het iemand dit reeds van my afgeneem?