Tuesday, December 12, 2006

Kuberruimte

Ek het sopas iemand se blog gelees wat ek nogal interessant gevind het. Ek sien toe sy laaste plasing was in 2005. Weird. Hy sou die volgende dag `n groot reis aanpak. Die eerste gedagte wat ek kry is: Sê nou hy het verongeluk? Hoe aardig moet dit nie wees om iemand wat jy werklik geken het se blog te ontdek na sy/hy skielik dood is nie? Amper soos toe ons na my oom se dood sy stemboodskap op sy selfoon ontdek het ("ek skakel terug sodra ek kan..."?! dankie oom, vat jou tyd, ons weet jys besig...) Seker net so aardig as enige persoonlike besittings... ek weet nie hoe ek hou van die idee nie...

My ma het eenkeer gesê toe ek jonger was dat sy dit amper nooit oor haar hart kan kry om enigiets wat sy skryf te berê nie. Sy sal skryf, maar dit dan dadelik verbrand of weggooi- `n groot jammerte, want sy is `n buitengewone taalmens. `n Gediggie wat sy by my geboorte op `n uitgeskeurde boekblaai geskryf het (en dankietog vir my gebêre het!) is een van my mees kosbare besittings. Vir haar is die idee dat iemand `n geskrif eendag moet ontdek, en dan lees sonder dat sy kan verduidelik wat sy bedoel het, ondraaglik. Dalk is dit juis hierdie "afstand" wat jou werk van jou het wat my laat begin skryf het, en seker ook wat my getrek het na kuns. Ek persoonlik het daardie afstand wat `n woord op papier bring nodig om sin te maak van wat ek dink en voel, om idees te orden. Sonder `n ordening van een of ander aard spoel dinge heeltemal te los en abstrak oor mens, en raak onbruikbaar.

Stephen King sê in "On writing" dat skryf soos `n tydreis is- dit wat die skrywer destyds gedink het, word oorgedra na die hede van die persoon wat dit lees. Ek vind hierdie gedagte uiters opwindend.

Is dit dan moontlik om te sê dat al ons tegnologië van kommunikasie, al ons maniere van kommunikeer, verseker dat die mensdom vinniger en makliker vooruitgaan? As `n tienjarige meisie kan lees hoe `n vrou in haar negentigerjare die bewustheid van haar naderende dood hanteer, kan sy moontlik self beter voorbereid wees daarop wanneer haar tyd aanbreek?
Of is ons bloot besig met die fabrisering van gewaarwording, om die illusie te skep dat ons dinge ervaar en beleef deur ander? Ken ons nog die verskil tussen ware ervarings en verplaasde gewaarwordings?

Indien daar nie `n verskil is nie maak dit sin om te dink dat die mensdom ten minste met elke generasie iets byleer. In daardie geval is daar wel iets om te leer uit die kollektiewe geheue.

Maar ek begin wonder of mens enigsins iets leer as jy dit nie self kon ervaar nie. Dalk is lees en leer net `n manier om meer gepasde woorde vir jou eie gewaarwordings en idees te vind. Om beter sin van `n subjektiewe, unieke ervaring te maak.

No comments: