Ek voel nostalgies, emosioneel en opgewonde- alles in een. Hierdie jaar was een van die rofste in my lewe (sovêr), maar definitief ook een van die beste: Intense liefdesteleurstelling, ongelooflike kuns-uitdagings en onverwagse ontdekkings oor myself en my vermoëns om aan te pas. Hierdie blog was deel van die proses om myself weer te verwoord -`n tipe proeflopie om te sien of ek myself weer interessant kan vind. En as bonus kon ek `n manier vind om rekenaar tegnologie te "emosionaliseer" en my eie te probeer maak. Ek voel klaar meer tuis in hierdie realm.
Tog is ek nie heeltemal gemaklik met die feit dat enigeen my gedagtes kan lees sonder dat daar ware interaksie plaasvind nie... `n normale gesprek is baie meer "regverdig". Ter selfde tyd hou ek van die idee om `n virtuele spasie van my eie te hê. Die feit dat dit virtueel is laat alles half ligter voel, en gee objektiwiteit.
Ek was saam met jess en luke uit vir nuwe jaar- heerlik! gemaklik saam met mense wat ek jare reeds ken en dierbaar is vir my. Tog kon ek nie help om met die aanbreek van nuwe jaar opgewonde te raak oor my Arabiese vakansie wat voorlê nie- om in die vliegtuig te klim en te voel hoe daardie einste bekendheid van my wêreld onder my wegsak, en verdwyn. Vreesaanjaend, maar terselfde tyd presies wat ek nodig het om weer in my eie houvas op realiteit te begin glo...
Monday, January 01, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment