oor kop op `n blok se plasing rondom BB se "rooiborsduif":
ek vermoed met sy werk dat mens iets mis as jy dit buite konteks lees. BB is vreeslik puntenerig, en beplan elke bundel haarfyn- in sy nuutste, die windvanger, is sekere gedigte selfs op spesifieke bladsynommers aangebring vir meer trefkrag!
Die gedig wat in Lotus na "(soos met vlerke)"(dit is die titel, met hakkies en al, soos in Ysterkoei-blues, isbn 0798141875 aangedui) verskyn, is:
(realiteit is `n wyse van kyk)
hoe my gedagtes geskend en verkleur
(want as lewe kladpapier is is dood ink)
hoe my gedagtes reddeloos soos donker duiwe
van `n eie land wat in die see moes sink
nog sonder grasie teen die wind bly draai
dan skielik neer mag stryk
op die seile van jou hande
daardie twee wit brande
in die son se teenwóórdigheid gebaai
sien, daars weer die duif motief. maar die keer as gedagtes, moontlik gedagtes wat vasgelê is met ink- woorde knip ook op `n manier idees se vlerke, omdat die betekenaar nooit heeltemal die betekenis kan omskryf nie, nê? let ook oop die aksent op die woord in teenwoordigheid. Ek gaan nie eers probeer om die "betekenis" van sy gedig uit te lê nie, want ek dink nie mens kan breyten so lees nie. sy werk is so dig gedig dat mens dit moet toelaat om deur jou te weef en te torring aan die manier hoe jy woorde voorheen verstaan het. maar ek vermoed dat hy met woorde handel soos die skilders van sy tyd met verf op lap: hulle kruip in die "verfgeid" van die goed in om jou `n smakie te gee van wat eintlik agter die illusie lê. en terwyl al die jagters vir die son staan en kyk, tref hy jou agter die kop met die gedagte: hoe moet dit wees om van jou vlerke te weet terwyl jy nie daarmee kan vlieg nie?
ek weet dit klink dalk vergesog om in ander tekste te gaan soek vir hierdie teks se betekenis. sommige mense glo ook dat daar niks buite die teks saak maak nie. Maar as mens na sy werk in geheel gaan kyk sien mens dat hy werk met `n tipe ikonografie van sy eie - soos wat kunstenaars idees aan sekere beelde of karakters heg. Hy skryf baie van sy vorige werke wat neig na politiese statements oop in "Nege landskappe bemaak aan `n beminde". Op die oog af bloot `n spul verse bemaak aan sy vrou, yolande. Maar as mens verder gaan lees en uitvind dat die Goree instituut waar hy aan vrede vir afrika werkagtig is oorspronklik nege lande betrek het, moet mens wonder of daar nie `n groter beeld betrokke is nie. Die geliefde in breyten se werk is `n metafoor vir baie dinge. In windvanger se "donkermaan/donkerhand" (p.111) is die gedig self soos `n vrou wat die digter wil "lêmaak". soms is die leser die geliefde wat hy probeer wakkerskryf. en in die konteks van sy tyd, waar woorde so effektief gebruik is om die skare te indoktrineer, dink ek dis moontlik om te dink dat hy met meer as `n spesifieke persoon gesels.
Sy werk is om dieselfde redes as goeie kunswerke goed: dit staan voor jou in verskillende vlakke. bv. Vorm en tegniek, die manier hoe dit inwerk op vorige en latere werke (van die digter self en ander digters wat hom voorafgegaan het), en dan ook die manier hoe dit sy eie gedagtegange en filosofie uitbeeld. Of jy nou die werk in sy geheel kan begryp of nie, daar is altyd een van die vlakke wat jy kan waardeer. Want "(soos met vlerke)" kan ook bloot net `n pragtige liefdesgedig wees.
Saturday, August 18, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
ek hou van jou 'interpretasie', en stem ook saam dat 'n mens 'n gedig met gevoel, en ook met die kop, moet lees, en dat beide die subjektiewe veld bevat waaroor net die digter (en ook nie eens ten volle nie, mens skryf tog uit jou onderbewuste?) insig besit, ek reken ook dat sy liefdes gedigte heel dikwels na die liefde van die land verwys, eerder as bloot net sy vrou (wat eerder as 'n metafoor gebruik word, vlgns my). wat 'n woordmeester, ek gaan sommer nou die 'ongedanste dans' uitgrawe en op die trein lees!! :)
Post a Comment