Om iemand na jare se verheerliking (let ons altyd op die krag van die betekenis van hierdie woord?!) in lewende lywe te ontmoet het 'n onverwagte ontnugterende effek op my gehad. Gieg. Hoe snaaks. Voor die oomblik het ek so uitgesien na die oomblik. Kleindogtertjie-in-my natuurlik fantaseer oor hoe ek in die gloed van sy kennis gaan skyn.
Die ware tyd was minder as dit. Maar eintlik baie meer.
Ek besef iewers tussen daardie vreeslike gedemptheid wat bekende mense aan `n kamer vol mense verleen en die sagte handdruk wat hy my gee uit vrees vir my meisiehand dat ek voor `n oom staan. Geen vreeslike bravade. Geen oombliklike satori deur die aanraking van die profeet nie. Ek is nogsteeds ek. Hy is net eenvoudig hy. Oombliklik na die ontmoeting is ek in absolute depressie gedompel. Ek het kindjieklein geglo dat daar antwoorde is. Dat mens net eenvoudig die regte grootmense moet vind om dit te kan kry.
En hier staan die maer man voor my. Nou nie meer so maer nie. Veel gryser as die smaailende jongman in my boek se binneblad. Effens vooroorgebuk.
Ek is leeg toe ek wegstap.
Maar ligter:
Elkeen van ons doen wat ons kan met die tyd tot ons beskikking. Dis so eenvoudig.
Daar is dinge wat jy gaan leer om te WEET, en daar is dinge wat jy gaan leer om te laat vaar. Terwyl jy dit leer is jy nie bewus van die aard daarvan nie. Neem dit. Leer dit. Gaan voort.
G'n mens het al die antwoorde nie.
Almal werk aan brokstukkies van die groter liefde. Moenie moed verloor nie. Dans met jou eie skaduwee. Net jy kan jou brokkie bring.
Tuesday, July 15, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment