word herinner aan dié reěl uit 'n ou afrikaanse gedig. Gaan eintlik oor twee uitbundige hobos, ala Boesman en Lena, dink ek, wat krag vir aangaan vind in mekaar se teenwoordigheid terwyl hulle met 'n bal speel in die straat. Mooi beeld van asem wat wit pluime afslaan vir mekaar teen die koue. (Ek kry dit nie nou nie. Krog? Dit was in een van daai versamelbundels, dalk "Sy sien webbe roer" van Lina Spies.)
Dis nou nie naastenby so drasties nie. Ek voel nie soos 'n boemie wat nie meer krag het vir enigiets nie. Ek dink ook nie mens moet so absoluut afhanklik wees van mense nie.
Maar ek voel wel asof ek ligter asemhaal.
Eers die naweek met 'n uitmergelende staproete. Dertig kilometer gestap en meer ou afrikaanse liedjies saam met Nanntjies gesing as wat ek geweet het ek ken. "Neem my op vlerke" kry 'n hele nuwe betekenis met jou longe vol berpiekasem en 'n uitsig oor die laeveld wat strek van Lydenburg se naeltjie tot Kommatiepoort se oor!
En vandag se rustige kuier met nog 'n handjievol mensies van my hartland. Opbouend, verkwikkend (van BINNE af!), fantasties.
Dis goed om te verstaan waarom ons nie elkeen op ons eie eilandjie gesit is nie. Ons het mense nodig om ons uit te daag om oor die volgende heuwel te kom, op te beur as ons van 'n krans afgevoeter het (en wag vir ons springbene om terug te groei) of sommer net om 'n eenvoudige stilte te deel in absolute verwondering oor die grootsheid van dit alles.
En dit is goed.
Hierdie leef-ding hier en nou smaak soet.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
Ja, so waar! xxx
Jy het my lekker aan die wonder oor daardie gedig!
Post a Comment