Ek het noudiedag met ' n outjie gesels wat geysers regmaak. Nie binne werksure ontmoet nie, sommer iemand wat by ' n partytjie aan my voorgestel is. Die normale formaliteite, my naam is pietie, my naam is sannie. En dan die alledaagse vraag: Wat doen jy?
Hy het aanhou om my vraag te ontduik. Ek vrae weer, en hy trippel al om die antwoord, om die antwoord. Toe besef ek dat dit vir hom ' n verleentheid is om te sê wat hy doen. Dat hy dink ek gaan hom oordeel volgens die baadjie wat hy elke dag aantrek.
Dis vir my ' n interessante ding, die.
Ons oordeel seker almal so. Daar is seker mense wat erger oordeel as ander.
Mens hoor van clubs waar mans by die kroeg sit met hul karsleutels op die toonbank om vroue te beïndruk. Maar hoe lank is die nuutste Porsche of Z4/5/6 (waar trek ons nou al?) goed genoeg?
Wat ek besef het is dat die rede waarom ek vra nie werklik is om te hoor wat die persoon doen nie. Ek vra maar omdat dit is wat ' n mens vra. Dis die gebruik. Maar waarna ek eintlik luister is die stemtoon. Ek kyk eintlik na die manier hoe die mens se oë dof word of verhelder by die vraag.
Jy sien: Ek wil eintlik weet of jy doen wat jy doen omdat daar vir jou geen ander doen-ding is wat jou lewe die moeite werd sal maak nie. Of jy met oortuiging elke dag aanpak omdat jy weet jy is waar jy jou heel beste bydrae kan lewer. Trek jy in die oggend jou droom saam met jou werksklere aan, loop jy by die deur uit met integriteit?
Ek is self soms in die posisie waar ek iets moet doen wat ek weet nie helemal is wat ek moet doen nie. Ek dink ons loop almal soms omdraaie na ons nissie toe. Maar die kruks is of jy vir altyd daar gaan bly. Dalk uit vrees vir jou eintlike uitdaging. As jy net daar bly vir die nodige tydperk, terwyl jy sekere verpligtinge moet nakom, is dit goed. Maar ons moet almal oppas om nie ons nis prys te gee vir ' n bietjie gemak nie. Doen wat nodig is, maar hou aan soek na die gaping om te word waarvoor jy gemaak is.
Dalk moet ek in die vervolg die vraag verander.
Goeiedag, My naam is Linda. Lekker weer wat ons het.
Is jy oortuig jy doen wat jy moet vir 'n lewe?
Wednesday, February 17, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Baie mooi inskrywing Linda, jammer ek het dit al gelees en toe nooit kommentaar gelewer nie. Dit laat my dink aan 'n insident. Ek het 'n rubber ring gaan soek vir my generatortjie se petrollek. Die besigheid wat ek eintlik gaan soek het het toegemaak, ek sien toe 'n gewone motoronderdeleplek en stap daar in. Daar was 'n bruinman en vrou agter die toonbank, ek het outomaties amper Engels begin praat, maar daar begin hulle toe met my Afrikaans praat en ons kuier te lekker. Ek gaan weer op 'n dag soontoe gaan en maak of ek 'n part nodig het net om te kuier!
In antwoord op jou vraag - nee, ek trek ongelukkig nie my droomjas aan in die oggende nie, maar ekonomiese toestande oortuig my ek is besig om die regte ding te doen, tot my stokperdjies meer begin betaal!
(Terloops, jou jongste inskrywing is baie naby aan sy vervaldatum!)
Post a Comment