Thursday, January 03, 2008

The Dreamers

Ek het The Dreamers gekyk van Bernardo Bertolucci
(Before the Revolution; Besieged; Conformist; the Grimm Reaper; Last Emperor; Last Tango in Paris; Little Buddha; 1900; Partner; Sheltering Sky; Spiders Stratagem; Stealing Beauty; Tragedy of a Ridiculous Man)

Interessant. Basies oor `n tweeling, seun meisie, wat `n baie intieme verhouding het. Ietwat te intiem. En dan ontmoet hulle `n outjie tot wie hulle beide aangetrokke is. Groepswoeps. uhm... ja
.
Omdat ek self een van `n tweeling is wou ek dit eers nie kyk nie. Dis ietwat ongemaklik. maar ek het gedink ek sal oor my calvinisties opvoeding (hel. Dis nie net calvinisties nie. ondertrouery in enige opset word gesien as onaanvaarbaar, nie waar nie?!) kom en dit `n kans gee.

En die fliek was ongelooflik goed. Regtig. Wat die filmbeskrywing weggelaat het is dat al drie die hoofkarakters "cinematophiles" (nie te verwar met pedophiles!) is rondom die jaar 1968 in Frankryk. (Die jaar van studente rewolusie en krietsende energie!).
Die skrywer en regisseur was self deel van die uprisings, en deel van die lewendige cinema kultuur van die tyd. Mense sou voor filmhuise vergader om idees te bespreek, films op `n glyskaal te plaas, te redekawel oor die betekenis van tonele en die vermoeëns van akteurs.
Hierdie bewussyn (wat ek bevrees nie naastenby met ons rugby-rooirokbokkieboudeswaaikultuur vergelyk nie) word visueel so goed in die film uitgedruk. Met tye vervloei films van die tyd met die huidige storie , en die uitwerking is boeiend.

Die fliek bevraagteken wat die rewolusie uitgerig kon kry. Dit ondersoek marxisme en indiwidualiteit binne `n fascistiese staat. Dit bevraagteken seksuele identiteit en die groei van die "self" binne `n geslote verhouding. Die drietjies sonder hulself af van die wêreld buite in `n tydlose kapsule waar enigiets aanvaarbaar is, elke persoon gekoester en aanvaar word nes hy/sy is..
Op die ou einde breek die rewolusie in die straat deur die venster van die kapsule en die karakters word tot hul uiterste beproef. Hoe vêr is jy bereid om te volg? Verloën jy jouself solank iemand jou net vas sal hou?

Die film word kritiek op die rewolusie van die sestigs. Iets wat nie regtig genoeg gedoen word in ons kultuur waar Guevara se leë gesig op gespierde sestienjarige borskassies pryk nie.

No comments: