Friday, October 16, 2009

Oor die deug van stilte

Soms moet mens besef dat jy dinge net beter kan sê deur stil te bly. Dit hoef nie 'n permanente stilte te wees nie. Ook nie 'n vals, self-opgelegde swye nie. Mens het bloot partykeer nie die woorde om iets te sê nie. Wie kan mens blameer as woorde soms net nie reg op jou tong kom lê nie? As sinne jou ontduik en uitwyk na 'n verder, dieper water waar blote woorde eenvoudig nie kan vaar nie?

'n Slim vrou het eenkeer vir my gesê dat haar omgang met woorde haar manier is om die werklikheid op te dam. Amper soos wat mens water sou aankeer om op jou eie tyd en manier daarvan gebruik te maak. Maar wat as die water te troebel word? Daar is 'n seisoen vir die ontsluiting van sluise.

Soms is die nie-omgang met woorde juis die intiemste soort praat.

'n Slim man het eenkeer vir my gesê dat hy nie in grense glo nie. Ek dink hy reken dat grense jou bloot beperk. Dat mens veel verder kan bereik as jy nie jouself aan grense hoef te steur nie. Maar hoe sal jy weet hoeveel jy verder is as daar in die eerste plek nie die beperking van grense bestaan het nie?

Die werklikheid is deurgaans dubbelsinnig. En tog. Die feit bly staan dat jy stilbly wanneer jy nie praat nie.

1 comment:

Anonymous said...

Dit is nogal frustrerend as mens met gedagtes sit wat jy net nie in woorde vasgevat kan kry nie. Mens kan maar net aanhou om die grense te toets van wat jy met woorde kan regkry.