Saturday, August 19, 2006

Ek leef in `n warrelwind!

Sjoe, kry skaars kans om asem te haal.

My werk is gekies vir SASOL new signatures! Adres om te onthou (en die werk te sien) is: http://www.sasol.com/
sasol_internet/frontend/signature/sig_gallery_display.jsp?vgallery=2&vcategory=1&page=7
Linda Neethling. Dit voel nogal lekker. Die dokumentering is net effe donker.

Intussen het daar soveel gebeur in die afgelope ruk- was na oppikoppi. Baie interessant. Die atmosfeer is krietsend, maar jislaaik, party mense hak op `n lelike manier uit. Antjies se drankie is op `n stadium van die verrigtinge gedokter. Watse soort mense doen so iets?! Ek kannie verstaan dat iemand so laag kan wees nie. Laat my partykeer voel asof ek nooit weer die huis wil verlaat nie. Gelukkig het ons gesien dat sy nie lekker is nie, en haar opgepas. Mag die persone wat by sulke geleenthede aaklige pretbederwers is se spiere permanent verslap.

Maar daar was bands wat ek nie eers geweet het bestaan nie! Love Jones van kwazulu natal, daspop van belgië- das pop das pop das pop! Ongelooflik energiek! Hulle drom speler is ook hulle hoofsanger! Ongelooflik. Wie nog? Clyde(?) en van der hoven was heerlik. Gerald dink ek is die hoofsanger se naam. sy stem lekker aan die gang (het hom al gehoor waar hy so bietjie van `n valserige padda in die keel het). Maar die band sou nie dieselfde gewees het sonder viool, kontrabas ens. nie. Ek hoop hulle tree meer gereeld saam op. Dis die soort musiek wat jou iets in jou middel vasvat en jou forseer om van daar af te dans.

Fokofpolisiekar was `n vreeslike verskriklike teleurstelling. Daai seuntjies sal goed doen as hulle van die hoofsanger ontslae raak- die hoof kitaarspeler dra in elk geval die hele optrede. Kan hy nie net vir hulle sing in die plek van daai aaklige windsak nie? Regtig. Die minste wat van jou verwag word as jy optree is om bietjie energie oor te dra. Hierdie vent kon nie eers homself dra nie! Wat nog te sê van sy broek aanhou. So tipies-tiener in sy storm en drang jare wat te veel dwelms doen en dan kla oor hy ongelukkig is. Vervelig. maak die lewe vir julself moeilik. (party mense dring daarop aan om die wiel te her-ontdek!-op presies dieselfde manier..). Ek het die arme bands wat saam met hulle moes opvoer so jammer gekry ( omdat veral Lark gewoonlik so perfektionisties is oor haar optredes). Jislaaik, ouens, mens maak nie so met jou mense nie. Sies. Ek het gedink dat hulle bietjie talent het, maar dog het `n veer geplant. Talent is niks sonder self-respek nie.

Verder:
`n Wyserige ou op `n stadium by `n vuur gesê: dalk is verbranne as. Nogal lekker.
Ek wonder toe: Kan mens nie maar alles sien wat jy glo nie?

Nog uitstallings bygewoon:
Nathani Luneburg by Fried gallery. Sy doen video kuns. Asemrowende hortende annemasie. Aitsa. Sy gebruik die vloeibaarheid van die geheue deur drogbeelde en hallusinasies. Baie interessante werk. Het my laat stres oor my meesters uitstalling eendag.
Maar eers moet ek honneurs slaag!

Ook David Krut besoek in Jo'burg- die werk van Wilna Cruz word daar uitgestal. Sy het `n mistieke, stil krag in haar beelde. Hoendervleismateriaal.

Hoe asemrowend om Rembrant in lewende lywe te sien! Daar is `n uitstalling van sy etse by JAG. Hy het so `n fyn sin vir humor gehad..onthou die engel wat `n toneel verlaat- mens sien net die engel se voetjies soos wat hy opstyg! (herinner aan die articles & frames winkelvenster op die oomblik-voete word amper ongemerk `n hele paar keer in die venster herhaal. Speels heerlik).

Onder in JAG ontdek ons toe `n uitstalling van Kinshasa.. die kuratore was Filip De Boeck en Koen Van Syngel. Ek sal dit beskryf as `n video installasie. as jy in die middel van die spasie staan voel dit of jy binne-in die stad is, omdat klomp verskillende videos se klank jou tegelyk tref. Ek was sprakeloos. ( en die storie oor die hekse kinders van kinshasa is angswekkend. Volgens die navorsers sal hekse vir kinders op straat geskenkies gee..`n bord kos, `n speelding. as die kind dit neem, dan gaan soek die heks die kind later die aand en eis dat hulle terugbetaal word. Die kind het gewoonlik niks om in ruil te gee nie. Die heks pers dan die kind af om iewers mensvleis te gaan aas. hoe onaards? Ek verstaan nie so mooi waarvoor dit dan gebruik word nie. Maar as die kinders se familie agterkom hulle by toorgoed betrokke is, word die kinders uit die huis gegooi.) Eienaaaaaardig. So erg dit voel na `n wolhaarstorie.

Sjoe, probeer op een slag `n hele maand vasvat.
Gister twee finale foto`s afgehandel. Hopelik kan ek volgende week met als klaarmaak. Sien uit daarna om die hele uitstalling klaar en reg te hê voor my!!! hmmm..verbeel jou net die lekker slaap daarna...

3 comments:

Louis said...

Dankie ek het lekker gelees hieraan. Jou stadsnorm reeksfoto lyk interessant (en baie geluk terloops!!) maar mens kan dit darem skaars kleinkry op daai site dis so klein. Wil jy nie van jou ander werk online sit nie?

stroibessi said...

Ek is bly jy vind dit interessant.. Ja, die SASOL foto`s lyk maar sleg..ek dink hulle het `n foto geneem van die fotos. Dis nie so donker in regte lewe nie, en elke figuur is saamgestel uit 3/4 negatiewe, wat dan weer afgeneem is om `n negatiewe te kry, so daar is eintlik baie fyner detail (ek is nogal een vir sistematiese prosesse!). Ek sal nie werk in hierdie reeks kan publiseer op die web nie, al is dit net my blog, want dit is vir `n uitstalling (mag nie die kat uit die sak laat nie). Maar hou maar dop, dalk sit ek `n paar van my ouer werke op.

stroibessi said...

daai band was Clark & van der Hoven. Nog outjies wat ek wil onthou is Syd Kitchen; (Anika was beter as wat ek haar nog gesien het..);The Abbots was great-Lekker dronk maar nogsteeds in staat (hoe doen hulle dit?!Leer bietjie iets hier, asb, polisiekar!) Abbots het saam met ons gekamp omdat daar "te veel ego in die bands se kampterrein is"... Saul Williams was ongelooflik, alhoewel hy `n paar vreesaanjaende goed gesê het, en Cornè en Twakkie is die barste boere wat ek al teëgekom het, maar ek het darem gegiggel vir hulle.