Friday, December 01, 2006

die Norms- `n ongeskilde opsomming

Ek stel in betekenisvorming en die mens se verhouding met verandering belang. Die mensgemaakte maatstaf vir dit wat normaal is boei my omdat dit immer herkonstrueer word, maar tog deur kultuur as reëlmatig voorgehou indien die manier hoe dit vorm, versteek kan word.

Ek gebruik beelde van my en my tweeling broer, oormekaar belig om mengsels te vorm wat ek Norms noem, om te herinner aan die proses-karakter van identiteits- en betekenisvorming. Die feit dat ek en my tweeling manlik en vroulik is, herinner aan Jung se gedagtes rondom Anima en Animus ontwikkeling. Anima is die “vroulike” deel van die manlike onderbewussyn, terwyl Animus na die “manlike” eienskappe in die vroulike onderbewussyn verwys. Beide Anima en Animus ontwikkeling het in die laaste stadium dinamiese kensketse – dit is identiteit wat altyd in beweging is, of deurlopend steeds besig is om te ontwikkel. Hiervolgens raak identiteit `n ongeslote idee sonder `n perfekte ideaal om te bereik. Jung stel voor dat beide die manlike en vroulike verskeie, selfs teenstrydige, eienskappe besit wat deurgans redeneer moet word. Hiervolgens is daar nie `n perfekte ideaal wat bereik kan word nie.


Deur my navorsingsdokument het ek besef dat kultuur identiteit ongesond kan raak wanneer dit `n geslote opgesteldheid met bepaalde opvattings word. `n Voorbeeld van so `n ongesonde opgesteldheid is die manier hoe kulturele betekenis geskep is in Apartheid. Ek verwys daarna as kulturele monomanie, omdat dit probeer om `n enkele waarheid, een Norm, af te sluit en voor te skryf. Dit blyk of die verbeelding die enigste verweer teen monomanie is.


My fotografiese beelde is spesifiek vermeng in die donkerkamer omdat hierdie medium ook `n proses-karakter het. Wanneer ek evokatief dink herinner die Norms my aan immersie en emersie in sterrekunde: Immersie is die verdwyning van `n hemelligaam agter `n ander se skaduwee, en staan teenoor emersie. Ek vermoed dat identiteitsvorming gesond is wanneer daar na `n ewewig tussen die self en die ander gestreef word, sonder dat die een die ander verduister.


Die Norms ondergaan `n verdere ontwikkeling van betekenis as hulle deur die gemeenskap beweeg, en met verskillende omgewings handel. Hierdie beweging poog om dinamies te wees, in fluksie. Dit word uitgebeeld in reekse waarin die fotografie self in verskillende stadia van ontwikkeling is.

Dus speel ek met die idee van die verbeelding as middel om ons wêreldsopvatting deurlopend te her-evalueer. Ek hoop op `n wêreld waar mense - indiwidueel of in groepe- mekaar van stagnasie kan behoed deur in wisselwerking te treë, en geen opvattings as vanselfsprekend hoef te aanvaar nie.

No comments: