Wednesday, March 21, 2007

Fliekvlooie...

Ek het nog altyd daarvan gehou om alleen te gaan fliek. Toe ek in die koshuis was op skool moes ons kamers deel. Alhoewel ek voorkom as `n redelike ekstrovert, het ek baie privaat tyd en spasie nodig. Beide hiervan is baie skaars in `n meisieskoshuis. Meisies dink om een of ander rede dat hulle alles moet deel. Hulle bad saam, gaan saam toilet toe, gesels oor Alles. Ordentlike, normale meisies is nooit alleen nie. My enigste verweer teen mal word was om baie lang badtye te hê agter `n geslote deur, of om in die aande, na ligte uit, die pad te vat. Ek was maer genoeg om deur die diefwering die glip, en lank genoeg om oor die koshuis se omheining te klim. Dan het ek gewoonlik koers gekies menlyn toe, te voet, in die middel van die nag, en die twaalf-uur fliek gaan kyk. Mens besef eers na die tyd hoeveel engeltjies daar was wat oor jou skouer moes loer om jou veilig te hou!
Met die gevolg dat alleen fliek nog altyd vir my die konnotasie het van vry wees, van spesiale alleentyd en om myself te pamperlang as ek naby aan breukpunt is.
Tot gistraand.

Ek het alleen gaan fliek. Dit het soos `n ekstra spesiale fliek gevoel omdat ek self soontoe kon ry , want ek het na jare se afhanklikheidl uiteindelik my lisensie laas week gekry. My sitplek was in die middel, langs die gangetjie. Die sitplek reg langs my was leeg, en daarnaas het drie meisies gesit wat saam kom fliek het.
Toe die film begin storm `n groot man in en kom sit in die lee sitplek tussen die meisies en my. Dit was eienaardig, omdat die teater besonder leeg was. Waarom sal mens nou opsetlik tussen vreemdelinge gaan sit as daar ander sitplek is om van te kies? Maar die fliek was interessant en ek kon gou vergeet van al die mense om my en heeltemal meegevoer word. Maar ek is gou teruggeruk na die werklikheid.

Die man langs my skuif sy voet tot teenaan myne. Goed, dink ek, dis net `n ongeluk. Hy is redelik groot (lees massief), en die stoele redelik klein. Ek skuif my voet weg, en draai my kniee na die paadjie se kant toe om dit duidelik te maak dat ek nie geinteresseerd is in vreemde voete nie. Dis stil vir `n rukkie. Die man sak egter volgende tot op sy lae rug en skuif sy voet weer tot teen myne. Ek is, tipies die meisies van Calvyn, bang om aanstoot te gee, want hy kan tog onmoontlik dit met opset gedoen het? So ek skuif my voet weer (tot in die paadjie) en probeer konsentreer op die fliek. Ek paai myself. Sheim, die ou is groot. Dalk voel hy ongemaklik in flieksitplekke. As ek nou skuif gaan hy seergemaak en onaantreklik voel. Ek gaan bly sit en sy voet soos `n ongeluk hanteer.

Teen hierdie tyd is daar nêrens oor om heen te skuif nie. Ek sit op die puntjie van my stoel, beide voete in die paadjie, en probeer my gesigsuitdrukking so normaal as moontlik hou. Maar uit die hoek van my oog gewaar ek `n beweging en V-R-I-E-S. Sy hand is stadig maar SEER seker besig om oor sy bo-been te beweeg in my rigting. Soos `n blits raap ek my goed op, besweer die skuldgevoelens, en gaan sit in die sitplek voor my. As verskoning krap ek in my sak en haal raserig `n koekie uit om aan te kou. Laat hulle dink ek wou niemand pla met die plastieksakkie nie. Laat hulle dink ek hou nie van vet mense nie. Laat hulle dink ek is `n kloosterkrappie wat bang is vir mense. Maar ek sit nie `n oomblik langer langs daardie vent nie. Sodra ek geskuif het, haal hy hoorbaar asem, staan op en verlaat die vertrek in `n driftige stappie. Eienaardig. Vir `n oomblik voel ek skuldig. Gaan hy nou in trane huistoe? Ek raas met myself. Sheim, arme ou. Hoe moet hy nou voel? Toe raas ek weer met myself. Hoe moet EK nou voel? waarom is dit vir my belangriker hoe hierdie freaky vreemdeling voel, as om my eie gevoelens van afgryse en ongemak te herken. Selfs al het hy niks gedoen nie sou dit steeds my volle reg gewees het om te skuif as ek ongemaklik voel. Weird ou!

No comments: