Wadi Tiwi- 8 Januarie 2007
`n Oase in die berge wat van die pad af lyk soos palmbome alleen. Langs die grondpadjies tussen die plante deur dobber daar dan en wan koppe vanagter opgestapelde klipmure. Die klippe is nie net verweer teen erosie nie... mense bly daar! Ontelbare slootjies lei water in ongelooflike formasies. Daar is `n munisipaliteit wat vanuit `n sentrale punt al hierdie mense bedien. AL HIERDIE MENSE, want nes jy dink die lewe het tot `n ent gekom, ontdek jy nog `n boom en boerbok of donkie, nog `n opgerigte muurtjie wat aandui dat daar net om die draai nog `n kind uit `n vensterluik jou gaan aanstaar, gapend van die hitte en verbasing. Dit lyk soms asof die mense die berg self kon uitdolwe vir skuiling.
"I love you!" skreeu `n klein seuntjie meer aan my ligte gelaat as iets anders. En ek kannie help om te wonder of hy ooit gaan leer om daardie woorde werklik vol te staan vir iemand nie. iemand werklik.
Aan die bo-punt van die bergpas het ons omgedraai, ons spore teruggesnuffel tot by die teerpad. Ons is al langs die arabiese kuslyn af tot by `n seeskilpadresort uit palmtakke. Dit was reeds aand toe ons opdaag waar die sonstoele (maanstoele?) met liggies aanmekaar gesnoer staan op die strand- `n mak strand, waar die aarde die sout langtand sit en lek-lek.
Woestyn kamp die volgende aand bereik op die rand van die Wahiba sands. Die kamers is ook van palmtakke, met masonite uitgevoer. Die vensters net sulke gapings. Die nagwind girts aan die droee palmtakke - dit klink of die duine jou in jou slaap bekruip. En die sterre moes uit die hemel geval het, want dit lyk of mens net so duskant Orion se voete verbyloop.
*
dig sal die duine teen jou sluimer
om woorde te vind
waarin aardsheid
sin kan kry
as berge hulself versit.
Monday, March 05, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment