Ek het `n nuwe slot vir my voordeur gaan koop nadat my sak vir die soveelste keer gesteel is. My sak was vol kruideniersware, en ons was na `n openings-aand van `n uitstalling, so ek het dit in die kar gelos. Toe steel een of ander jafel my vriendin se kar! Dis aardig. Ek raak nie eers meer ontsteld as so iets gebeur nie. Dis meer `n irritasie as `n skok. Is ek al afgestomp? Elkgeval.
Nuwe slot, nuwe sleutels vir almal in die woonstel en `n polisiemannetjie- daardie aardige klein kontrepsie wat jy in die deur sit nadat dit gesluit is om seker te maak niemand kan aan jou slot peuter nie. My sak is gesteel saam met my dagboek wat my adres inhet, so mens kannie die kans waag nie. Iemand het my juis van `n tiekieboks af gebel om te sê hy`t van my goed opgetel... Hoe wonderlik dat ek nou al soos `n krimineel dink en weet dat ek nie vir hom moet sê om my by my huis te ontmoet nie?
Oppad terug van die hardeware winkel -wat loop-afstand van die huis af is- sien ek `n tannietjie voor my wat al so kromgetrek is deur die ouderdom dat haar hak-neusie amper aan die sy-paadjie snuffel. Die tannie het inkopies gaan kry by Checkers, net om die hoek, en haar koopsakke is tot oorlopens toe vol. Maar sy sukkel. Al snuffelende in die straat af stop sy na elke skuifel om maar eers weer haar pakkies neer te sit voordat sy dit weer optel en nog `n skuifie aansnuif. My hart bloei. Goeiedag, tannie. Nadat sy eers gewip het van die skrik gluur sy my Hoe gaan dit? met agterdogtige kraalogies aan. Waarheen gaan tannie?
"Ek is reg, dankie" hyg sy met `n halfgesmeerde pienk glimlaggie, " ek gaan net so om die hoek."
"Ek gaan om dieselfde hoek, tannie, kan ek nie help dra nie?"
"Nee, dankie, ek is reg."
En ek moet instem. Verby haar stap sonder om om te kyk.
Ek dink aan my ouma, wat alleen in hierdie omgewing in `n woonstelletjie gebly het na Oupa se dood. Ek wonder hoe groot en gevaarlik die wêreld nie vir haar moes lyk nie. Hoe mens kan vereensaam tussen al die mense in `n groot stad omdat dit fisies nie veilig is om nuwe kennisse op te doen nie.
En ek voel in die gesig gevat. Die feit dat sy my takseer het, en moes besluit dat al 48 kilos van my die tipe meisie is wat ou tannies oor die kop sal slaan vir brood en melk, grief my tot in my grein. Tog is ek trots op haar. Hierdie klein snuifie van `n vrou wat teen wil en dank sal regkom laat my dink aan my ma, al my grootma`s wat deur die eeue hulle grond bly staan het.
Maar `n stemmetjie in my vra waarheen ons oppad is as daar in al die stanery nie meer plek is vir ons generasies om te ontmoet nie?
Sunday, February 18, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment