`n Winterdag kan blank-bedrywig loop
binne die grense van `n dorp wat heers
oor `n paar duisend vierkantmyl van oop,
boomlose hoogvlak, as die twee monteurs
aan `n paar handelsreisigers se karre
knoei en hoor wat in die groot stad gebeur,
en kopskud. Dan kan elke ou hom harre-
koejawel hou, `n heelal maak van sy eie
ambaggie. Maar met blouaand sluk die barre
landskap wat syne is; `n sweepdun suide
skuur deur die nek, deure klap orals toe.
In die losieshuis sit nou die nog-vrye
en reeds-vereensaamde byeen en eet:
gesels eers hard, maar verstom as die luide
kerkklok hul messegoed se klik oorstem
en kleep, kleep hees soos `n belboei teen gevaar
met die afsterf van die lig -
kyk betrap elkeen in sy maat se gesig
en weet
dat hulle aangewys is op mekaar.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment