Saturday, April 14, 2007

Gistraand, in die styl van `n resensie.

Na johannesburg om `n paar bands te sien wat ons ken. Eienaardige omgewing. Johannesburg het areas wat veilig voel, maar letterlik tien tree verder so onheilspellend is dat jy jou gordel stywer gespe uit vrees dat iemand jou jannas van jou lyf af gaan stroop.

Die plek waarheen ons is, is `n ou teatertjie langs GEM supermark. Asemrowende akoestiek, en `n spasie met `n wonderlike atmosfeer. Gedurende die gig was daar ook `n kuns-uitstalling deur `n spul jong kunstenaars aan die gang. Jy vind jouself in gangetjies en stelle trappe met saamgepersde plafonne. In hierdie doolhof is daar om elke hoekie nog `n kunswerk versteek. Die teater se dakbalke is ontbloot, en die stoele uitgeruk om `n groot oop spasie te laat wat ideaal is vir musiek maak. Toeskouers kan onder in die ouditorium rondwoeker, of bo in die gallery gaan sit as hulle `n donker hoekie soek. Die plek is, en ek sê dit sonder 'n sweempie sentimentaliteit, net plein magies.

Asof die spasie alleen nie alreeds my aand kon maak nie, het die bands wat gespeel het ongelooflik perform. greenisforturbo was beter as wat ek hulle al gesien het. Alhoewel hul erken dat hul nuwe song nog effe skaaf nodig het, het hulle eksperimentering met opvoer die verhoog aan die brand gehad. Kidofdoom se meesleurende melodië het in elke noekie van die gallery gaan hang om selfs die gestorwe teater geeste se voete te laat jeuk. Voeg hierby desmond and the tutus se joligheid (en die wonderlike kitch JESUS SAVES gordel gespe!), en die aand eindig in `n waas van krietsende energie (of was dit die buzz van die rooiwyn?). Heerlik!

No comments: