Ek en Magdel is na `n Koos Du Plessis huldeblyk in die Huis vir Afrikaanse Poësie (HAP). Dit was ongelooflik. Eienaardig, maar tog was ek dol daaroor. Klomp mense het gedigte oor Koos Doep geskryf, van sy gedigte voorgelees, daar was twee asemrige dames wat sy liedjies gesing het... Maar die hoogtepunt van die aand: Trevor Nasser! Wil jy nou meer?! ek het nie eers geweet hy leef nog nie. Ons wonder of hy en Koos Doep vriende was.
Voor die vertoning vertel die outjie wat vir hom klank gedoen het aan my en Magdel hierdie staaltjie:
`n Vriend van hom is `n joernalis, en moes `n storie oor Mnr. Nasser doen. Hulle ontmoet hiet iewers in Pretoria, en moet saam johannesburg toe ry om by `n funksie uit te kom. Hulle stap na Mnr. Nasser se kar, waar hy ongeërg die mens-lewensgrootte pop by die voorste sitplek wegvat en in die agterste sitplek vasgespe. Hy reken dat jou kans op `n kaping minder is as dit lyk of daar iemand saam met jou in die kar is. (Ek verbeel my die joernalissie maak toe maar `n grappie dat hulle darem nou drie in die kar is, so die kans op `n kaping is nog minder!). Hulle klim en trek weg. Of sleep aan- teen 40 km/h op die snelweg.
Ewe skielik slaan Mnr. Nasser rem aan. "o aaaaaarde!" skreeu hy, "die HOND!". Soos `n blits is hy uit die kar, en maak die KATTEbak oop. `n HOND spring daaruit! Die arme labrador is so wild na die skielike rem-aanslaan dat die joernalissie ook nou eers moet help om die ding op die snelweg te vang en in die kar (op die agterste sitplek langs sy popnooi) te kry. So kon die reis toe nou darem voortgaan.
Met hierdie storie as agtergrond sit ek en Magdel in spanning en wag vir die meneer om sy verskyning te maak.
In `n ligte, bykans onherkenbare sweempie motgifballe arriveer hy. Gekoller en getaai in `n skaflike grys pak, en nuwe blinkleerskoene (definitief nuut, maar blink?daars `n lekker laag stof op... maar dis vergewe, want ons weet mos nou al dat hy in die pad moes rondhol om die hond te vang!)
Dit werskaf en maak reg en gaan tekere, baie self-bewus. Uit sy kitaarkas vol wonderlikhede bring hy `n opvou voetstoeltjie na vore. Hy haal `n mandoelientjie uit , en kry sy kitaar gereed met die sorg wat net jarelange wedersydse respek kan meebring.
Toe hy klaar is verlaat hy eers die verhogie. Hy kom groet vir my en Magdel, vertel skamerig-senuweeagtig dat daardie klein kitaartjie `n mandoelien is. ja, sê ek, ek weet, ek is baie lief vir die mandoelien. o, goed dan! Hy hoop ons geniet die vertoning. Dankie, sê ek en magdel. Hy verdwyn vir `n rukkie.
Toe ons weer sien is hy op die verhoog. En begin speel. Die vorige episode se vat-vat onsekerheid smelt weg, sy seningrige senuweeagtigheid maak plek vir `n meevoerende vloeibaarheid. Sy hele lyfie buig oor sy kitaar, asof in aanbinding. Sy hande pluk nie snare soos wat sommige jong kunstenaars sou nie, dit vee net so... maar elke noot is skoon en vars en helder. Na elke liedjie kyk hy op asof hy vanuit `n droom ontwaak. Sy gesig is die ene verbouereerde verbasing, "O, is julle ook hier?!" wanneer die applous volg. Dawwerend. Hy staan dan elke keer op en maak `n bedeesde buiging. Gaan sit, en begin weer.
Aan die einde van sy vertoning staan hy afgehaal op. Die mense juig. Dis duidelik dat almal meer soek. Nederig maak hy `n kop-buiging, en vra kinderlik, pleitend "Gun my net nog EEN liedjie. Gun my net Kinders van die wind". Ek en Magdel kyk na mekaar, en besef ons albei is omtrent in trane. So `n dierbare mens. Hy't ons in `n halfuur deur al ons kinderjare se saamsing en saamwees gelei, en herinner op sy sagte manier dat hierdie klein Iets darem goed was in die verlede, en dat dit nognie dood is nie. Dit gaan maar aan, nog al die pad daar om ons te herinner waar ons vandaan kom. En dis totaal onselfsugtig. Al wat dit wil hê is `n kans om net nog een liedjie te speel.
Wednesday, May 09, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Ek het ook al gehoor van die pop van Trevor Nasser. Ek het bietje rondgeloer op jou blog en sal weer inloer, ek hou ook van gedigte. Maak gerus by my ook 'n draai.
Post a Comment