Ek is besig om die tweede Anglo-Boereoorlog na te vors. Soos wat dit maar gaan met navorsing begin dit in al my gesprekke inkruip, ook met my familie. En toe vind ek 'n storie:
Oumagrootjie, Maria Johanna Neethling (nèe De Villiers), was bekend as 'n effense vanhelsdingen. Daar was byvoorbeeld 'n pikswart wildeperd wat niemand op die plaas kon tem nie. Na weke se sukkel het die manne begin oorweeg om pogings om die hings te tem te laat vaar. Toe Oumagrootjie aan tafel van hul planne te hore kom het sy haar kierie gegryp en buitentoe geloop. Sy't summier op die perd gespring en hom gefoeter totdat hy na haar luister. Na dese het hy haar perd geword- sy was die enigste mens wat hy toegelaat het om hom te ry. Ek weet nie veel van perde af nie, kan my nie indink dat dit sou werk nie, maar volgens my ouma-hulle was daardie perd tot die dag van sy dood toe dol oor haar.
Haar man en my Oupa Neethling se pa, Jacob de Villiers Neethling (Rooi Jaap genoem omdat hy vlamrooi hare gehad het), het 'n plaas gehad in die destydse Transvaal. Hy moes dit verlaat om op kommando te gaan. Hy was 'n rapportryer tussen genls. de Wet en De La Rey. Sy een broer, Willem Hendrik, was heliografis en rapportryer onder generaal Botha. (Willem Hendrik was getroud met Marthina Schutte, die dogter van die landdros wat Pretoria aan die Engelse moes oorgee.)
Toe die Engelse begin met hul beleid om vroue en kinders te vang en op te sluit het my oumagrootjie besluit dat daar nie 'n manier is wat sy vir 'n Engelsman sit en wag om haar en haar kinders te kom haal nie. Sy en die plaas se voorman, Plaatjie, besluit toe om alles te pak wat te pakke is en te vlug. Sak en pak die veld in met ossewaens, die hele trop beeste, kinders en kraaie.
Die geselskap het die hele oorlog lank onder die naderende Engelse uitgevlug. Die osse was later so goed geleer dat hulle sonder die klap van 'n sweep in hul jukke orent sou kom en op bevel sou begin hardloop. My oumagrootjie sou in gevaarlike oomblikke volgens oorlewering met 'n tien pond hamer al langs die wa hardloop en elke keer as die wiel begin afkom die ding op sy plek sit!
Toe my Oupagrootjie na die oorlog op sy plaas aankom is dit heeltemal verlate en verwoes. Die verskroeide aarde beleid het die hele omgewing laat platstroop. Hy en sy broers was verslae en natuurlik onbewus daarvan dat die vroue hulle uit die voete gemaak het lank voordat die Engelse daar aangekom het.
Ek dink hulle was op die plaas vir 'n paar dae toe hulle in die koppies 'n sweep hoor klap. Toe hulle opkyk kom 'n massiewe trop vee en al die vroue en kinders saam met Plaatjie by die berg af. Nie 'n enkele een van hulle het in die oorlog omgekom nie. Ek kan my nie eers die vreugde van daardie herontmoeting indink nie! Later sou hulle spottenderwys na die geselskap verwys as "Rooi Jaap se Kommando".
Plaatjie was skynbaar 'n Sotho. My pa vermoed dat hy die hele geselskap Lesotho toe geneem het om hulle uit die oorlog te hou. Daar is nie werklik 'n manier om te weet nie.
Toe Oupagrootjie besef dat hy eintlik niks van werklike waarde in die oorlog verloor het nie, het hy sy trop vee sommer so met die blote oog reg in die middel deur verdeel. Hy't na Plaatjie toe gestap en aan hom gesê om die helfte van die plaas te kies wat hy graag wil hê. Toe Plaatjie sy keuse gemaak het het Oupagrootjie vir hom die helfte van sy plaas en die helfte van sy vee gegee.
Die rivier wat deur die plaas loop het in die jaar 1909 sy walle oorstroom. Twee van Plaatjie se klein kindertjies is saam met die stroom gesleep. Toe my Oupagrootjie hulle hoor skreeu (hy was in die bed met longontsteking of iets), het hy uit die huis gestorm en in die rivier geduik om hulle te help. Hy het eers die een uitgesleep op die wal en toe weer ingeduik vir die klein seuntjie. Hy het inmekaargesak net nadat hy die kleintjie ook uitgesleep kon kry. Die inspanning na sy siekte was net te veel. Hy is dieselfde dag oorlede. Vier dae daarna, op 23 Februarie 1909, is sy eie seun gebore. My oumagrootjie was so swak na die bevalling dat sy nie haar man se begrafnis kon bywoon nie, maar hulle het die stoet voor haar kamervenster laat verbyloop sodat sy hom so kon groet.
Dit laat my nogal wonder wat ek in dieselfde situasies sou doen. As ek 'n man was, sou ek in die oorlog gaan veg het? Sou ek kon hensop? Hoe sterk voel ek werklik oor politieke ideale?
Ek wonder ook nogal oor hierdie misterieuse Plaatjie figuur.
My oumagrootjie se tweede man was vreeslik saggeaard, soveel so dat hy stuk vir stuk die hele plaas verloor het deur in die depressie vir sy vriende daarmee borg te staan. Maar Plaatjie se geel van die plaas is nooit so geaffekteer nie. Ek dink my ouma het gesê dat hy sy deel van die plaas later aan die Engelse moes afstaan omdat hulle die boere wou forseer om arm blankes op hul plase te laat bly en vir hulle te laat werk. Daar is nie in die Neethling boek enigiets oor Plaatjie geskryf nie.
Saturday, November 14, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
Uiters interessante skrywe hierdie! Mens kan nie help om te wonder oor die waarheid van die grond en beeste wat aan Plaatjie gegee is nie. Of is " 'n deel" dalk mondelings oorgelewer as "in die helfte gedeel"? Dan word dit vir my meer geloofwaardig.
Goeiedag, kop-op!
Ja, dis moeilik om te weet wat is waar en wat is nie. Die vee was egter volgens my ooms, pa, ouma en oupa werklik in die middel verdeel. Groot Oupa Neethling het die vee nie eers getel nie, maar helfte daarvan aan Plaatjie gegee. Hy sou immers in elk geval alles verloor het as dit nie vir Plaatjie se hulp was nie. Ek is nie so seker oor die plaas nie. Van die inligting het intussen verander:
-Plaatjie was 'n Swazi, nie 'n Sotho nie. Hy sou dalk eerder Swaziland toe gegaan het as Lesotho toe.
-Die plaas se naam is Brakspruit, naby Klerksdorp. My pa het in sy lewe nog Plaatjie se huis gesien wat hy daar gebou het- 'n regte baksteenhuis met gewels en die hele toetie. Ek was nog nooit daar nie, weet nie of dit nog staan nie.
- Oumagrootjie is later weer getroud met 'n Van der Merwe, en het ook kinders by hom gehad. Na die ouers se dood was daar rusie onder die kinders oor die boedel.
-Brakspruit omgewing is verdeel in sewe plase. Ek kan nie uitmaak of dit voor, tydens of na die oorlog verdeel is nie. Dit sou dalk sin maak as dit na my stief oupagrootjie se dood was, maar daar was vier Neethlingkinders en ses of meer Van der Merwes, so ek weet nie waarom die sommetjie nie klop nie. My oupagrootjie-hulle was ook meer as sewe kinders, so dit maak nie sin nie.
-Plaatjie was reeds tydens die oorlog 'n ou man. My pa dink sy mense het na sy dood na 'n tuisland toe getrek.
Ek sal dalk op 'n stadium gaan kyk of iemand daar nog iets weet!
Post a Comment