Ek het hierdie week 'n propperse avontuur gehad. Is na Stellenbosch, sommer so op my eie, om Versindaba by te woon. En maggies, was dit 'n ervaring.
Die trein. Shosholoza Meyl het 'n toeristeklas. Mens klim by Parkstasie in Johannesburg op waar 'n reishokkie aan jou toegeken word. Elke hokkie het vier slaapbanke.
Ek was ietwat senuwee-agtig om dit te probeer, veral alleen. Mens hoor soveel stories van wat op treine aangaan. Maar mense wat van mening is dat die treine onveilig is dink aan Gauteng se Metro. Regtig. Dit was heerlik. As tyd nie 'n oorweging is nie sal ek nooit weer op 'n ander manier Kaap toe reis nie. Ek het lanklaas so lekker geslaap soos op die trein. En die skemerson se gloed oor die Vrystaat is 'n beeld wat steeds in my geestesoog skyn.
Enkele gedagtes en snitte uit Versindaba 2009:
Ronel Foster en Charl-Pierre Naudé se poësiewerkswinkel was interessant. Ek sou nogal graag meer van Ronel wou hoor - ek dink sy't 'n magdom inligting oor literatuur. Charl-Pierre Naudé het 'n heel ander aanslag as HJP, wat goed was om te ervaar. Hy't egter min kommentaar gelewer oor minder geslaagde skryfsels, en ek het dit ietwat frustrerend gevind. Ek dink dit kan almal help om met daardie werk om te gaan. Elke skrabbel is tog nie publiseerbaar nie, maar dit kan selfs gevestigde skrywers help om iets meer van die proses te verstaan as mens begin kyk waarom party werk minder geslaag is as ander.
Vir my was die hoogtepunt die skryfwerk van André Trantaal en die jong Pieter Odendaal en Pieter du Toit. Ek hoop regtig om binnekort meer van hulle skryfwerk te sien in die publieke sfeer. (Ek dink Trantaal is moontlik in die nuwe Nuwe Stemme).
Saterdag
Gesprek oor Kinderverse
Philip de Vos is 'n ongelooflike voordraer! Sy register van tien of twaalf verskillende stemme (karakters) het my laat wens dat hy my Oupa was. Wonderlike voordrag van "Padda Pimpernel". Die praatjie het Scheepers se nuwe kinderverseboek bekendgemaak. Die laaste Afrikaanse een was iets soos vyftig jaar terug gepubliseer, so ek stem saam dat dit hoogtyd was vir 'n nuwe een. Aanhaling: "only the rarest kind of best is good enough for the young" - moenie dink kinderverse is kinderspel nie!
Willem Fransman se lesing oor Peter Snyders was wonderlik. Snyders beskryf poësie as sy "ambag van die nag" waar hy in diens staan van die gewone mens. Hy gebruik heerlike uitdrukkings soos "mens raak tolbos", en maak my lus om Political Joke 1 en 2, Onwaarskynlike mens en Tekens van die tye te gaan soek.
Daarna volg 'n bespreking oor die Bruin stem in Afrikaanse digkuns. Hier moet ek erken dat dit vir my nog effe problematies is dat 'n digter as 'n "bruin" digter bekend moet staan. Ek besef daar is allerhande gesprekke rondom identiteit en kulturele bestaansreg betrokke, maar ek ril elke keer as iemand praat van "een van ons beste Bruin digters". Kan hy nie maar net een van ons beste digters wees nie? Ek besef egter ook dat ek nie ril as iemand praat van "een van ons beste Palestynse/Britse/Arabiese digters" nie, en ek wonder nogal waarom. Probeer ek kultuurneutraal bly? Rig dit nie eintlik meer skade aan nie?
'n Opmerking uit die gehoor (van 'n juffrou wat saam met haar skoolkinders daar was), het my getref. Sy vertel dat sy hulle probeer leer wat dit is om gedigte te maak. Die een kind wou skryf oor hoe hy voel oor sy ma. Sy't hom gevra om evokatief te dink, in vergelyking bv. Soos wat laat jou ma jou voel? Die kind het skamerig gevra "Kan ek enigiets kies, juffrou?". So asof jou persoonlike konnotasies en gewaarwordings rondom jou eie ma verkeerd kan wees. Asof iemand 'n rooi lyn deur dit mag trek en dit ongeldig MAG verklaar. Dit bly my by.
Joan Hambidge het 'n lesing gelewer oor die tagtigers. Lekker. Wanneer sy hulle teenoor vandag se skryfwerk afspeel duik die vraag op "Wat het geword van veilig dig?". Sy is uiters vermaaklik.
Ampie Coetzee lei die gesprek tussen Carina Stander, Johan Myburg en Charl-Pierre Naudé oor skilderkuns se oorvleueling met poësie.
Carina is heerlik om na te luister en raak wonderlike punte aan. Ek gaan nie alles hier weergee nie, maar hulle het ondermeer genoem dat woorde bloot tekens is, terwyl die kwas verbeeldings maak. Ek stem nie heeltemal saam nie. Hulle het darem tot die gevolgtrekking gekom dat mens nie die twee verskillende verbeeldingsimpulse werklik kan skei nie.
Die gesprek het rondgehol. Daar kom 'n mooi beeld uit van 'n "Impuls-stoorkamer", en dat party impulse kwasse toe hol. Ampie vra die vraag of die Impuls om te skryf dan verskil van die impuls om te skilder... Daar het nie regtig 'n antwoord hierop uitgekom nie, maar ek dink dis omdat daar nie werklik een bestaan nie!
Hambidge en Hugo het in 'n publieke gesprek getree oor hul eie werk. Hambidge beskryf Hugo as 'n vormbeheerder en -beskermer, en erken dat dié soort werkswyse uitdagend is.
Hugo beskryf Hambidge se werk as ego-vlietend teenoor ego-soekend. Hy reken dat sy in gesprek tree met DJ Opperman en Robert Prinski met die wegskryf van haar "ek", asof die "ek" in die pad staan van die ideale gedig. Hierdie idee steek skuins in my kop. Ek gaan daaroor dink.
Jelleke Wierenga het daarna uit haar nuwe bundel voorgelees (Bloot mens). Haar bitterheid en woede oor die toestand van die land het uit haar voorlesing gepeul en was uitmergelend tasbaar. Ek het die werk self egter nie vreeslik geslaagd ervaar nie. Die feit dat Antjie Krog se lesing "My ontnugtering tot poësie" net daarna gevolg het was sekerlik beplan. Dit was fantasties. En om houvas te probeer kry na die blatante kontras tussen die twee se aanslae was besonder uitputtend. Dis die uitdaging van ons tyd. Dat daar sulke algeheel teenstellende opvattings oor ons situasie bestaan. Is ek werklik bereid om die stelling te maak dat een meer geldig is as die ander? Ek verkies definitief Krog se manier van sinmaak. Dis meer produktief en spreek werklikwaar van groter (mede-) menslikheid en liefde. Maar ek verstaan dat Wierenga vanuit 'n doodsangs praat waar baie Suid Afrikaners hulself bevind. Ek wens net sy wou bietjie beter skryf van daar af!
Krog se gesprek kyk ondermeer na vertalings van Paul Celan se werk. Dit was asemrowend. Die een gedig handel oor die Jode se ervaring van die Nazi oorlog. Dit het die deurgaanse refrein
Bid tot ons Here
ons is naby
wat so teerSEER raak aan die einde van die gedig omdat dit hul gestrooptheid en wanhoop verwoord. Ek wil gaan soek na sy werk.
enkele aanhalings wat aan my gevat het:
"Skoonheid het haar gesig verbrand"
(in hierdie tyd)
die woord "morrel"
"soos om suurstof te verdedig"
"die rondings van jou wenkbroue laat my duisel"
"estetika as etiese bril"
"die kiel van die manlike herte groei tot by die daeraad"
"as 'n taal aan gekou voel raak dit soos 'n tuisnywerheid" (...waar elke tannie se koekies en tertjies welkom is. Sommige mense het gevoel dat hierdie stelling gerig was op Wierenga se werk. Ek dink sy het meer in die algemeen gepraat.)
"my nag is volmaakter as die wêreld wat ek weet"
"êrens moet daar 'n rugbare siel wees" ... maar ek wonder of ek nie "rigbare" gehoor het nie?
Thursday, December 03, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
4 comments:
ek love "Skoonheid het haar gesig verbrand"!
Noudat ek weer 'n speltoetser het, het ek gou die woordverwerking gedoen. Die ê'tjies, é'tjies en so 'n paar ander maats is nou op hul plek. My rekenaar het ineengestort en ek moet stelselmatig weer alles laai.
Dankie vir 'n baie interessante inskrywing! Ek sal dit graag ook eendag wil doen, maar dit sal eers kan wees as ek nie meer vir 'n salaris werk nie. Dit klink wonderlik om die groot skrywers oor hulle werk te hoor praat. En die treinslapery! Ke-dik-ke-dik...ke-dik-ke-dik...
Dank u, Kopop'nblok!
Ek werk vir 'n salaris en is 'n voltydse student. Glo my, ek is werklik nie wat mens sou beskryf as ryk nie! Dit is werklik baie goedkoper as wat mens sou dink. Ek sal aanbeveel dat jy dit so gou as moontlik doen! (bygesê dat ek 'n mol in my kamer moes vang- ek sal nie die vreeslike goedkoop verblyf wat ek gehad het aanbeveel nie!)
Post a Comment